Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 5:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Ouers sal hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. En Ek sal julle straf deur die enkeles wat oorleef tot by die uithoeke van die aarde te verstrooi.

11. “So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, sal Ek jou volledig afsny. Ek sal jou nie jammer kry nie omdat jy my tempel verontreinig het met walglikhede en afskuwelikhede.

12. ’n Derde van jou volk sal in die stad van hongersnood en siekte omkom. ’n Derde sal deur die vyand buite die stadsmure doodgemaak word. En ’n derde sal Ek in die wind verstrooi en hulle met my swaard agtervolg.

13. Dan sal my woede afgekoel wees, en Ek sal tevrede wees. En wanneer my woede teen hulle bedaar het, sal die hele Israel weet dat Ek, die Here, met hulle in my jaloerse ywer gepraat het.

14. “En so verander Ek jou in ’n puinhoop, en die omringende nasies en elkeen wat verbygaan, sal met jou spot.

15. Hulle sal jou spot en jou uitlag en beledig. Jy sal ’n waarskuwing en afskrikmiddel wees vir die volke rondom jou. Hulle sal sien wat gebeur wanneer die Here teen ’n volk draai as Hy kwaad is. “Dit is Ek, die Here, wat praat!

16. “Ek sal dodelike pyle van hongersnood op julle afskiet om julle te vernietig. Die hongersnood sal al erger word totdat elke krummeltjie kos op is.

17. Saam met die hongersnood sal wilde diere julle aanval en julle van julle kinders beroof. Siekte en oorlog sal deur julle land woed, en Ek sal die vyand se swaard teen julle bring. Dit is Ek, die Here, wat praat!”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 5