Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 48:16-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Die stad moet twee en ’n half vierkante kilometer wees.

17. Aan al vier kante moet daar ’n onbeboude strook van 130 meter wees.

18. “Buite die stad moet daar grond wees wat vyf kilometer oos en vyf kilometer wes van die stad strek, al langs die gewyde gebied. Hierdie grond moet bewerk word om kos te verskaf vir die mense wat in die stad werk.

19. Die mense wat in die stad werk, mag die grond bewerk. Hulle kom uit al die stamme van Israel.

20. “Die hele gebied, insluitende die gewyde grond en die stad, is dus dertien en ’n half vierkante kilometer.

21. “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied met die tempel in die middel daarvan, asook die stadsgebied, is tot beskikking van die regeerder. Elkeen van hierdie gebiede is dertien en ’n half kilometer breed en loop tot by die oosgrens en wesgrens van die land.

22. Die regeerder se land sluit dus alles in tussen die gebiede wat aan Juda en Benjamin toegeken is, behalwe vir die gebiede wat opsy gesit is vir die gewyde grond en die stad.

23. “Dit is die grond wat aan die oorblywende stamme toegeken word. Benjamin se grond is suid van die regeerder se grond, en strek oor die hele land van Israel van die oosgrens tot teen die wesgrens.

24. “Suid van Benjamin se grond lê dié van Simeon, wat ook van oos na wes strek.

25. “Volgende is die grond van Issaskar, met dieselfde oostelike en westelike grense.

26. “Dan kom Sebulon aan die beurt, wat ook oor die land strek van oos na wes.

27. “Die gebied van Gad is net suid van Sebulon met dieselfde grense in die ooste en weste.

28. Die suidelike grens van Gad loop van Tamar tot by die waters van Meriba-Kades en volg dan die Egiptespruit tot by die Middellandse See.

29. Dit is die gebiede wat opsy gesit moet word vir elke stam se erfdeel, sê die oppermagtige Here.”

30. “Die uitgange uit die stad is soos volg: Die noordelike muur is twee en ’n kwart kilometer lank

31. en daar is drie poorte, genoem na stamme van Israel. Die eerste moet Ruben genoem word, die tweede Juda en die derde Levi.

32. Die oostelike muur moet ook twee en ’n kwart kilometer lank wees, met drie poorte, vernoem na Josef, Benjamin en Dan.

33. Die suidelike muur, ook twee en ’n kwart kilometer lank, is vernoem na Simeon, Issaskar en Sebulon.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 48