Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 48:11-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die gebied word opsy gesit vir gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle was gehoorsaam aan My en het nie afgedwaal soos die mense van Israel en die res van die Leviete nie.

12. Dié grond is hulle spesiale deel van die heiligste gedeelte van die land. Langs die priesters se grond lê dié van die ander Leviete.

13. Die grond wat aan die Leviete toegedeel word, moet dieselfde grootte en vorm wees as dié wat aan die priesters behoort – ook dertien en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Saam is dié twee gedeeltes dus dertien en ’n half kilometer lank by tien en ’n half kilometer breed.

14. Dié spesiale grond mag nooit verkoop of verruil word nie, want dit behoort aan die Here. Dit is apart gesit om heilig te wees.

15. “’n Addisionele strook grond van dertien en ’n half by twee en ’n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, woongebied en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.

16. Die stad moet twee en ’n half vierkante kilometer wees.

17. Aan al vier kante moet daar ’n onbeboude strook van 130 meter wees.

18. “Buite die stad moet daar grond wees wat vyf kilometer oos en vyf kilometer wes van die stad strek, al langs die gewyde gebied. Hierdie grond moet bewerk word om kos te verskaf vir die mense wat in die stad werk.

19. Die mense wat in die stad werk, mag die grond bewerk. Hulle kom uit al die stamme van Israel.

20. “Die hele gebied, insluitende die gewyde grond en die stad, is dus dertien en ’n half vierkante kilometer.

21. “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied met die tempel in die middel daarvan, asook die stadsgebied, is tot beskikking van die regeerder. Elkeen van hierdie gebiede is dertien en ’n half kilometer breed en loop tot by die oosgrens en wesgrens van die land.

22. Die regeerder se land sluit dus alles in tussen die gebiede wat aan Juda en Benjamin toegeken is, behalwe vir die gebiede wat opsy gesit is vir die gewyde grond en die stad.

23. “Dit is die grond wat aan die oorblywende stamme toegeken word. Benjamin se grond is suid van die regeerder se grond, en strek oor die hele land van Israel van die oosgrens tot teen die wesgrens.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 48