Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 44:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Hulle mag nie hulle hare te lank laat groei of dit heeltemal afsny nie. Hulle moet dit netjies sny.

21. Priesters mag nie wyn drink net voor hulle die binneste hof ingaan nie.

22. Hulle moet vroue kies net uit die ongetroude vroue van Israel of uit die weduwees van die priesters. Hulle mag nie met ander weduwees of geskeide vroue trou nie.

23. Hulle moet my volk leer wat die verskil is tussen die heilige en die alledaagse, en hoe om te onderskei tussen wat rein en wat besoedel is.

24. “Wanneer daar onmin tussen my mense is, sal hulle as regters optree en uitspraak gee. Hulle besluite moet gebaseer wees op my bepalings. En die priesters moet ook my voorskrifte en bepalings vir al die heilige feeste uitvoer. Hulle moet toesien dat die Sabbat as ’n heilige dag geëer word.

25. ’n Priester mag nooit homself besoedel deur by ’n lyk te kom nie, behalwe as dit sy pa of ma, kind of broer of ongetroude suster is. In sulke gevalle word dit toegelaat.

26. Dan mag hy weer in die tempel werk eers nadat hy hom gereinig het en dan sewe dae gewag het.

27. Die eerste dag terug by die werk, as hy die binneste hof en heiligdom ingaan, moet hy ’n sonde-offer vir homself bring, sê die oppermagtige Here.

28. “Wat grond betref, mag die priesters niks besit nie, want Ek is hulle erfdeel.

29. Hulle kos kom van die geskenke en offers wat die volk na die tempel bring, die graanoffers, sonde-offers en skuldoffers. Wat vir die Here eenkant gesit word, behoort aan die priesters.

30. Die eerste van die ryp vrugte en al die ander gawes soos die eerste deel van die graanoes wat vir die Here gebring word, gaan na die priesters. Dit moet vir die priesters van die Here gegee word sodat die Here julle huise sal seën.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 44