Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 41:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die buitenste muur van die tempel se sykamers was twee en ’n half meter breed. So was daar ’n oop area tussen hierdie sykamers

10. en die ry kamers langs die buitenste muur van die binneste hof. Hierdie oop area was tien meter wyd en dit het reg rondom die tempel gegaan.

11. Twee deure het vanuit die sykamers op die terrasarea oopgemaak, en dit was twee en ’n half meter breed. Daar was ingange aan die noorde- en die suidekant.

12. Daar was ’n groot gebou aan die westekant wat na die tempelhof gekyk het. Dit was 35 meter breed en 45 meter lank, en sy muur rondom was twee en ’n half meter dik.

13. Die man het eers die tempel gemeet. Dit was 50 meter lank. Daarna het hy die tempelhof agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, en dit was ook 50 meter lank.

14. Die binneste hof aan die oostekant van die tempel was 50 meter wyd.

15. Daarna het hy die westelike gebou gemeet, insluitende die mure, wat 50 meter wyd was. Die voorste en binneste tempelvertrek en die voorportaal was met houtpanele oordek

16. soos ook die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels. Dit was alles met houtpanele oordek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met houtpanele oordek, ook die vensteropenings self.

17. Bokant die ingang na die binneste heiligdom en teen die mure rondom, binne en buite,

18. was die mure versier met gerubs en palmversierings, met elke keer ’n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad,

19. ’n gesig soos ’n mens wat na die kant van die palm aan die een kant kyk, en ’n gesig soos ’n leeu wat na die kant van die palm aan die ander kant kyk. Die figure was al langs die binnekant van die tempel uitgekerf.

20. Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die buitenste muur van die Allerheiligste.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 41