Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 40:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 28 April in die 25ste jaar van ons ballingskap, veertien jaar ná die val van Jerusalem, was die Here se hand op my.

2. In visioene het God my na die land Israel geneem en my op ’n hoë berg neergesit. Van daar kon ek iets sien soos ’n stad oorkant my, na die suidekant toe.

3. Soos Hy my naderbring, sien ek ’n man wie se gesig soos koper blink en wat by ’n hek staan. Hy het ’n maatband en ’n meetstok in sy hand gehad.

4. Dié man sê toe vir my: “Mensekind, kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek jou baie dinge kan wys. Dan kan jy na die mense van Israel teruggaan en hulle vertel wat jy alles gesien het.”

5. Ek sien toe ’n muur wat die hele tempelarea omring. Die man se meetstok was drie meter lank. Hy het die muur gemeet, en dit was drie meter breed en drie meter hoog.

6. Toe het hy na die ingang gegaan by die oostelike muur, die trappe opgeklim en die drumpel van die ingang gemeet. Dit was drie meter breed.

7. Die sykamers vir die wagte aan elke kant was elkeen drie vierkante meter, en die mure tussen die sykamers was elkeen twee en ’n half meter dik. Agter teen die poortgebou was daar ’n ingangsportaal, en die drumpel na die portaal was drie meter breed.

8. Hy het ook die ingangsportaal na die hek gemeet,

9. en dit was vier meter. Die pilare wat dit gedra het, was een meter dik. Dié ingangsportaal was aan die binnekant van die ingang en het na die tempel gekyk.

10. Daar was drie sykamers vir wagte aan weerskante, almal ewe groot, en die mure tussenin was ewe dik.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 40