Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 38:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Persië, Kus en Put, almal met skilde en swaarde, sal saam met hulle wees.

6. So ook Gomer en sy baie mense, Bet-Togarma uit die verre noorde en sy mense saam met baie nasies.

7. “Maak reg! Wees gereed, jy en al jou soldate. Neem beheer oor hulle almal.

8. Oor ’n lang tyd sal jy opgeroep word. Dan sal jy na ’n land gaan wat van oorlog herstel het. Daardie land se mense is bymekaargemaak uit al die nasies om op die berge van Israel, wat lank verlate gelê het, te bly. Hulle is tussen die nasies uitgebring en bly nou veilig.

9. Dan sal jy en jou bondgenote en baie soldate soos ’n storm oor hulle aanrol en die land soos ’n wolk toemaak.

10. “So sê die oppermagtige Here: Daardie tyd sal jy ’n bose plan uitdink.

11. Jy sal sê: ‘Ek gaan die land wat oop lê, aanval. Ek gaan hierdie mense wat so onbesorgd lewe, sonder hoë mure en poorte, vernietig!

12. Ek gaan die puinhope wat herbou is, plunder. Die mense het teruggekom uit die nasies en is nou ryk met hulle groot kuddes en besittings. Hulle bly in die middel van die aarde!’

13. Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis sal vra: ‘Het jy kom plunder? Het jy jou soldate bymekaargemaak om die vee weg te dryf en die besittings te vat, die goud en silwer as buit weg te dra?’

14. “Daarom, mensekind, profeteer teen Gog. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Die dag as my volk in vrede leef, sal jy jouself gereed maak.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 38