Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die stem sê toe vir my: “Mensekind, eet wat Ek jou gee. Eet hierdie boek. En gaan dan en gee hierdie boodskap vir die volk Israel.”

2. Ek het toe my mond oopgemaak en Hy het my die boek gegee om te eet.

3. “Eet dit alles. Eet jou versadig daaraan,” sê Hy. En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning geproe.

4. Toe sê Hy: “Mensekind, gaan na die volk Israel met my boodskappe.

5. Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk wie se taal jy nie verstaan nie.

6. Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk met ’n vreemde of moeilike taal nie. As Ek jou na húlle toe gestuur het, sou hulle geluister het.

7. Ek stuur jou na die volk Israel, maar hulle sal nie na jou luister nie, net soos hulle nie na My luister nie. Want die hele spul van hulle is hardkoppig en hulle harte is hard.

8. Maar kyk, Ek het jou net so hardkoppig en koppig gemaak soos hulle.

9. Ek het jou so hard soos ’n rots gemaak. Daarom moet jy nie vir hulle bang wees nie, ook nie as hulle jou kwaai aankyk nie, want hulle is ’n opstandige klomp.”

10. Toe voeg Hy by: “Mensekind, laat al my woorde eers diep in jou eie hart ingaan. Luister eers self sorgvuldig daarna.

11. Gaan dan na jou volk wat in ballingskap is en sê vir hulle: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê.’ Doen dit of hulle na jou luister of nie.”

12. Die Gees het my toe opgetel, en ek het ’n harde dreuning agter my gehoor wat sê: “Mag die heerlikheid van die Here in hierdie plek geprys word!”

13. Dit was die geluid van die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het en die gerommel van die wiele onder hulle.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3