Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. “Daar in die woestyn het Ek ook hulle kinders gewaarsku om nie in hulle ouers se voetspore te volg en hulle nie met die afgode te besoedel nie.

19. ‘Ek, die Here, is julle God,’ het Ek vir hulle gesê. ‘Wees gehoorsaam aan my voorskrifte, doen my wil

20. en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is ’n teken van die verhouding tussen My en julle. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is.’

21. “Maar ook hulle kinders was teen My opstandig. Hulle het geweier om gehoorsaam te wees aan my voorskrifte. Hulle het nie my bepalings nagekom en my wil gedoen nie, al sou gehoorsaamheid daaraan beteken dat hulle lewe. Hulle het my Sabbatdae geminag. Daarom het Ek gedreig om daar in die woestyn my wraak oor hulle uit te giet en my woede oor hulle af te koel.

22. “Tog het Ek dit nie gedoen nie om my eer te beskerm tussen die nasies wat die mag gesien het waarmee Ek hulle uit Egipte gebring het.

23. Maar Ek het daar in die woestyn gesweer dat Ek hulle onder die nasies en oor al die lande sou verstrooi,

24. want hulle was nie gehoorsaam aan my bepalings nie. Hulle het my voorskrifte verag. Hulle het my Sabbatdae geminag en na hulle voorouers se afgode verlang.

25. “Toe het Ek hulle oorgegee aan waardelose voorskrifte en bepalings wat nie vir hulle lewe kon bring nie.

26. Ek het toegelaat dat hulle hulle besoedel met die geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het toegelaat dat hulle hulle eersgebore kinders aan hulle gode offer. So wou Ek hulle verwoes, om vir hulle te wys wie Ek, die Here, is.”

27. “Mensekind, daarom moet jy vir die mense van Israel sê: Die oppermagtige Here sê: Julle voorouers het aangehou om My te laster deur ontrou aan My te wees.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20