Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 14:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Mensekind, veronderstel die mense van ’n land sondig teen My en tree troueloos teen My op. Veronderstel Ek lig dan my vuis op om hulle te verpletter en Ek vat hulle kos weg en stuur ’n hongersnood wat mens en dier vernietig.

14. Dan, selfs al was Noag, Daniël en Job tussen hulle, sou dié drie se regverdige optrede niemand anders gered het behalwe net vir hulleself nie, sê die oppermagtige Here.

15. “Of veronderstel Ek stuur ’n klomp gevaarlike wilde diere om die land te verwoes en die mense dood te maak. Die land word verlate sodat niemand dit waag om daar deur te trek nie

16. Selfs al was hierdie drie mans daar, verklaar die oppermagtige Here, sou dit niks aan die situasie verander nie. Dit sou nie die mense van verwoesting red nie. Net daardie drie sou gered word. Maar die land sal verwoes word.

17. “Of veronderstel Ek bring oorlog teen die land, en Ek stuur vyande om te kom en mens en dier te vernietig.

18. Selfs al was hierdie drie mans in die land, sweer die oppermagtige Here dat hulle nie hulle eie seuns en dogters sou kon red nie. Net hulle sal gered word.

19. “Of veronderstel Ek stort my woede uit oor die land deur pessiekte in die land te laat uitbreek, en die pessiekte maak mens en dier dood.

20. Selfs al het Noag, Daniël en Job daar gebly, sweer die oppermagtige Here, sou hulle nie hulle eie seuns of dogters kon red nie. Net hulle sou gered word deur hulle regverdige optrede.

21. “So sê die oppermagtige Here: Hoeveel erger gaan dit nie wees nie as Ek al vier my vreesaanjaende strawwe oor Jerusalem uitstort: oorlog, hongersnood, wilde diere en pessiekte. Mens en dier sal doodgemaak word.

22. Tog sal daar ’n klompie oorlewendes oorbly, ’n oorblyfsel wat uit Jerusalem gebring word. Hulle sal as ballinge kom om tussen julle te kom bly. En dan sal julle self sien hoe boos hulle is. En dan sal julle beter voel oor die ramp wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek Jerusalem aangedoen het.

23. Julle sal verstaan wanneer julle sien hoe hulle optree. Dan sal julle saamstem dat Ek hierdie dinge wat Ek aan die stad gedoen het, nie sonder rede gedoen het nie, sê die oppermagtige Here.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 14