Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 11:12-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. “Dan sal julle weet dat Ek die Here is. Julle het mos geweier om aan My gehoorsaam te wees. Julle het eerder al die verkeerde dinge gedoen wat die nasies rondom julle gedoen het.”

13. Terwyl ek nog gepraat het, het Pelatja seun van Benaja skielik gesterf. Ek het toe met my gesig op die grond neergeval en uitgeroep: “O oppermagtige Here, gaan U almal in Israel doodmaak?”

14. Die Here het vir my gesê:

15. “Mensekind, die mense wat in Jerusalem agtergebly het, jou eie mense, praat oor hulle familie wat in ballingskap is. Hulle sê: ‘Hulle is ver weg van die Here, en nou het Hy hulle grond vir ons gegee!’

16. Daarom moet jy sê: So sê die oppermagtige Here: Alhoewel Ek julle in ballingskap in al die lande van die wêreld verstrooi het, sal Ek in die tyd wat julle ballinge is, ’n heiligdom vir julle wees.

17. Jy moet sê: So sê die oppermagtige Here: Ek maak hierdie mense bymekaar tussen die nasies en versamel hulle uit die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. En Ek gee die land Israel vir hulle terug.

18. “En as hulle terugkom na hulle eie land, sal hulle al die walglike dinge en elke verfoeilike beeld verwyder.

19. En Ek sal hulle harte verander en hulle gees nuut maak. Ek sal die harte van klip wegneem en vir hulle sagte harte in die plek daarvan gee.

20. Dan sal hulle my opdragte en wette gehoorsaam. En hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.

21. Maar dié wat na walglike dinge en verfoeilike beelde verlang, sal Ek straf vir hulle sondes, sê die oppermagtige Here.”

22. Die gerubs het toe hulle vlerke gelig en met die wiele langs hulle opgestyg. Die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

23. Toe het die heerlikheid van die Here uit die stad opgestyg en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan.

24. Hierna het die Gees van God my na die ballinge in Babilon teruggeneem. Dit was die gesig wat ek gesien het.

25. En ek het die ballinge alles vertel wat die Here vir my gewys het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 11