Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Van die volgende oggend af het die Here dit laat gebeur. Al die vee van Egipte het begin doodgaan. By die Israeliete is daar egter nie een dood nie.

7. Die farao het mense gestuur om te kom kyk of dit so is. Selfs nadat hy gehoor het dat dit wel so is, het hy hardkoppig gebly. Hy het volgehou om te weier dat die volk kon gaan.

8. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Vat ’n paar hande vol roet uit ’n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug uitstrooi.

9. Dit sal soos fyn stof oor die hele Egipte versprei en rou sere aan mens en dier laat kom.”

10. Hulle het toe roet uit ’n oond gevat en na die farao toe gegaan. Terwyl die farao staan en kyk, het Moses dit in die lug gestrooi. Daar het rou sere op mens en dier begin uitbreek.

11. Die towenaars kon nie met Moses kragte meet nie omdat hulle self ook vol sere was.

12. Die Here het die farao egter nog koppiger gemaak. Hy het volgehou om te weier om na hulle te luister. Dit was net soos die Here gesê het dit sou wees.

13. Toe sê die Here vir Moses: “Staan môre-oggend vroeg op en gaan sê vir die farao: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, sê: Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

14. As jy hulle nie toelaat nie, gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en jou amptenare en jou volk werklik gaan ruk. Jy sal dan verseker weet dat daar nie nog iemand soos Ek op die hele aarde is nie.

15. Ek kon jou al lankal doodgemaak het. Ek kon jou en jou volk ook al lankal met rampe van die aarde af weggevee het.

16. Ek het jou egter gespaar sodat jy kan sien hoe magtig Ek is en dat my Naam oor die hele aarde bekend sal word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9