Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:20-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die amptenare van die farao wat hulle gesteur het aan wat die Here gesê het, het dadelik hulle vee en werkers na veiligheid gebring.

21. Dié wat hulle skouers opgetrek het vir wat die Here gesê het, het hulle werkers en hulle vee net daar in die veld gelos.

22. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug. Oor die hele Egipte sal daar hael val op mens en dier en oor al die plante oor die hele land.”

23. Moses het toe sy stok in die lug opgesteek. Die Here het toe donderweer en hael laat kom en weerlig oor die hele aarde laat uitslaan. Die Here het ’n geweldige haelstorm oor die hele Egipte laat losbars.

24. Daar was nog nooit in Egipte se geskiedenis so ’n groot haelstorm met soveel onophoudelike weerlig nie.

25. Die haelstorm het deur die hele Egipte getrek. Dit het alles in die veld – mens, dier en plante – platgeslaan. Daar het nie ’n boom bly staan nie.

26. Die enigste plek waar daar op daardie dag nie hael geval het nie, was in Gosen waar die Israeliete gebly het.

27. Die farao het toe dringend vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my mense is verkeerd.

28. Bid tog tot die Here dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”

29. “Goed so,” het Moses geantwoord. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die Here bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die Here behoort.

30. Ek weet egter dat jy en jou amptenare nog glad nie in die Here glo nie.”

31. Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was op daardie stadium vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak.

32. Die koring en die hawer was darem nog veilig, want dit het nog nie opgekom nie.

33. Moses is toe van die farao af weg en uit die stad uit. Toe hy sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou slaan. Die hael en reën het opgehou val.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9