Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 40:28-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Hy het die gordyn by die ingang van die tabernakel opgehang.

29. Hy het ook die altaar vir die brandoffer by die deur van die tabernakel neergesit, dit is die tent van ontmoeting, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

30. Daarna het hy die waskom tussen die tabernakel en die altaar neergesit en dit vol water gemaak sodat die priesters hulle daar kon was.

31. Moses, Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daar gewas.

32. Elke keer wanneer hulle by die tabernakel kom en na die altaar toe gaan, het hulle eers gewas, soos die Here vir Moses gesê het.

33. Toe het hy die gordyn wat die binnehof rondom die tabernakel en die altaar vorm, opgehang. Hy het ook die gordyn by die ingang na die binnehof opgehang. So het Moses sy werk afgehandel.

34. Toe het die wolk afgesak en oor die tabernakel gehang. Die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tent gevul.

35. Moses kon nie langer in die tabernakel kom nie, want die wolk was oor die tabernakel en die teenwoordigheid van die Here het dit gevul.

36. Wanneer die wolk van die tabernakel af opgelig en begin beweeg het, het die Israeliete geweet dat hulle verder moes trek.

37. As die wolk nie opgelig en begin beweeg het nie, het hulle net daar gebly.

38. Die wolk van die Here het gedurende die dag oor die tent gehang en snags was daar vuur oor die tabernakel. So het dit dwarsdeur Israel se reis gegaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 40