Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Maar die Here sê vir hom: “Gryp dit aan sy stert!” Toe Moses dit gryp, het dit weer ’n herderstok geword.

5. “Hulle sal hierdie teken glo,” het die Here vir hom gesê. “Dit sal hulle oortuig dat jy die Here, die God van hulle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – ontmoet het.”

6. Toe sê die Here vir Moses: “Sit jou hand onder jou klere in.” Moses het dit gedoen. Toe hy weer sy hand uithaal, was dit spierwit melaats.

7. “Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die Here vir hom. Toe hy sy hand uithaal, was dit so gesond soos die res van sy lyf.

8. “As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die Here gesê.

9. “As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.”

10. Moses het by die Here gepleit: “Ag, Here,ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.”

11. “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die Here hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die Here, nie?

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4