Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 27:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Maak ’n vierkantige altaar van akasiahout. Dit moet twee en ’n half meter aan elke kant wees en een en ’n half meter hoog.

2. Sit ’n horing vas op elke hoek. Alles moet ’n eenheid vorm. Trek die altaar en die horings met koper oor.

3. Die houers vir die as, die grafies, die bakke, die vleishake en die vuurpanne vir die altaar moet alles van koper gemaak word.

4. Jy moet ’n koperrooster om die altaar vassit. Sit ook ringe aan die vier hoeke van die altaar vas.

5. Sit die rooster net onder die rand van die altaar vas sodat dit tot by die helfte van die altaar gaan.

6. Om die rooster te dra moet jy drapale van akasiahout maak en hulle met koper oortrek.

7. Sit die pale deur die ringe aan die kante om dit daaraan te dra.

8. Die altaar is van plank en hol binne. Jy moet dit presies net so maak soos jy dit op die berg gesien het.”

9. “Maak ’n binnehof vir die tabernakel. Skort dit af met ’n gordyn van fyn linne. Aan die suidelike kant moet dit 44 meter lank wees. Die gordyn word regop gehou deur twintig regop koperpale wat op twintig voetstukke van koper staan.

10. Die gordyn hang aan hakies van silwer wat aan silwergordynpale bo-op die regop pale vas is.

11. Aan die noordekant van die binnehof is dit presies dieselfde. Daar is die gordyn ook 44 meter lank. Dit hang aan silwerhakies en pale wat op kopervoetstukke rus.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 27