Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 25:11-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Jy moet dit aan die binne- en aan die buitekant met suiwer goud oortrek. Dit moet reg rondom ’n goue rand kry.

12. Maak vier ringe uit goud. Sit dit aan die onderste vier hoeke vas. Daar moet twee ringe aan elke kant kom.

13. Maak drapale uit akasiahout en trek dit ook oor met goud.

14. Steek die pale deur die ringe aan die kante om die ark daaraan te dra.

15. Hierdie pale moet altyd daar bly. Hulle mag nooit daar uitgehaal word nie.

16. Jy moet later die plat klippe wat Ek vir jou gaan gee en waarop Ek die bepalings van ons ooreenkoms neergeskryf het, binne-in die ark neersit.

17. “Jy moet ook ’n deksel van goud vir die ark maak. Dit is die versoendeksel. Dit moet een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed wees.

18. Maak twee beelde van gerubs met goud oorgetrek om weerskante bo-op die deksel te staan.

19. Sit hulle só vas dat dit ’n eenheid met die deksel vorm.

20. Die gerubs moet na mekaar kyk. Hulle moet met oopgespreide vlerke op die deksel afkyk.

21. Sit die klippe wat Ek jou sal gee binne-in die ark en die versoendeksel bo-op die ark.

22. Ek sal jou daar ontmoet. Ek sal van tussen die gerubs bo-op die ark met jou praat. Van daar af sal Ek vir jou my opdragte aan die Israeliete gee.”

23. “Jy moet ook ’n tafel uit akasiahout maak. Dit moet ’n meter lank, ’n halwe meter breed en ’n driekwart meter hoog wees.

24. Trek dit met suiwer goud oor. Maak ’n goue rand om reg rondom te gaan.

25. Maak ook ’n lys van sewe sentimeter breed om reg rondom die tafel te gaan en sit daaraan ’n goue rand vas.

26. Maak vir die tafel ringe van goud en sit dit aan die lang kante

27. op die hoeke net onder die lys vas. Die drapaal moet daardeur gesteek word om die tafel daaraan te dra.

28. Maak die drapaal van akasiahout en trek dit oor met goud.

29. Jy moet ook vir die tafel skottels, panne, kanne en houers van goud maak sodat dit vir die drankoffers gebruik kan word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 25