Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Gedurende elkeen van die drie feeste in die loop van die jaar moet elke manlike persoon die Here julle God kom aanbid.

18. “Julle mag nooit vir My bloed offer saam met brood waarin daar suurdeeg is nie. Die vet van die dier wat julle offer mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.

19. “Julle moet die beste deel van die graan wat julle op die eerste dag oes, na die Here julle God se tempel toe bring. “Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek stuur ’n engel saam met julle om julle langs die pad te beskerm. Hy sal vir julle die pad wys na die plek wat Ek vir julle uithou.

21. Gee aandag aan hom en luister na wat hy sê. Moenie julle teen hom verset nie. Hy sal dit nie verdra as julle teen hom in opstand kom nie. Hy verteenwoordig My.

22. “As julle mooi na hom luister en presies doen wat Ek vir julle sê, sal Ek self julle vyande se teenstander wees. Ek sal My stel teenoor hulle wat teen julle is.

23. “My engel sal saam met julle gaan. Hy sal vir julle die pad wys na die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek sal hulle uitwis.

24. Julle mag nie voor hulle gode kniel om hulle te aanbid nie. Julle moenie maak soos hulle nie. Julle moet hulle afgodsdiens met wortel en tak uitroei. Julle moet ook die klippilare waar hulle aanbid tot op die grond toe afbreek.

25. “Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën.

26. In julle land sal kinders nie met geboorte sterf nie. Julle mense sal nie onvrugbaar wees nie. Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe.

27. “Ek sal sorg dat die mense wie se land julle inneem vir julle bang word. Ek sal julle vyande voor julle laat vlug.

28. Ek sal perdebye voor julle uitstuur. Hulle sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor julle uitdryf.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23