Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie. Dit sluit in: jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly.

11. Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom. Om daardie rede het die Here die sewende dag geseën en vir Homself eenkant gesit as sy heilige dag.

12. “Behandel jou ouers met respek. Jy sal dan lank en gelukkig lewe in die land wat die Here vir jou gee om in te bly.

13. “Moenie mense doodmaak nie.

14. “Moenie egbreuk pleeg nie.

15. “Moenie iets steel nie.

16. “Moenie valse verklarings oor ander aflê nie.

17. “Jy moenie afgunstig raak op ’n ander se eiendom nie. Jy moenie sy vrou, sy manlike of vroulike werkers, sy beeste of sy donkies of enigiets wat hy besit vir jouself begeer nie.”

18. Die volk het baie bang geword toe hulle hoor hoe die donderweer rammel, die trompet geblaas word en sien hoe die rook uit die berg borrel. Hulle het op ’n afstand gaan staan.

19. Hulle sê toe vir Moses: “Jý moet maar liewer met ons praat. Ons sal na jou luister. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.”

20. “Julle moenie bang wees nie,” het Moses vir hulle gesê. “God het so na julle toe gekom sodat julle ontsag vir Hom kan hê. Sorg dat julle nie teen Hom oortree nie.”

21. Terwyl die volk op ’n afstand bly staan het, het Moses ingegaan in die donker wolk waarin God was.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 20