Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 16:15-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die Israeliete was verwonderd toe hulle dit sien. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit hierdie?” want hulle het dit nie geken nie. Moses antwoord hulle: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om van te eet.

16. Die Here het gesê dat elke tent soveel daarvan bymekaar moet maak as wat daar mense in die tent is. Julle moet vir elke persoon twee kilogram daarvan bymekaarmaak.”

17. Die volk het gegaan en daarvan bymekaargemaak – party meer, party minder.

18. Toe hulle dit afmeet, was dit presies reg. Dié wat baie opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet.

19. Moses het toe vir hulle gesê: “Daar mag niks daarvan vir die volgende dag oorbly nie.”

20. Tog was daar mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan laat oorbly vir die volgende oggend. Daar het toe wurms in gekom sodat dit baie sleg geruik het. Moses was baie kwaad vir hulle.

21. Die volk het voortaan elke oggend kos gaan bymekaarmaak volgens elkeen se behoefte. Namate dit in die dag warmer geword het, het die kos wat nie opgetel is nie, verdwyn.

22. Op die sesde dag het hulle twee keer meer opgetel as op die ander dae. Die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel.

23. Moses het vir hulle gesê: “Die Here het bepaal dat daar ’n rusdag moet wees. Môre is dit die Here se Sabbat. Bak en kook wat julle vir vandag nodig het en laat die ander vir môre oorbly.”

24. Hulle het gemaak soos Moses gesê het en die kos wat oorgebly het, het hulle tot die volgende oggend gehou. Dit het nie sleg geword nie en geen wurms het daarin gekom nie.

25. Moses sê toe: “Dit is die kos wat julle vandag moet eet. Vandag is die Here se Sabbat. Julle sal nie vandag iets op die grond kry nie.

26. Ses dae lank moet julle kos gaan bymekaarmaak, maar die sewende dag is die Here se Sabbat. Op hierdie dag sal daar nie kos op die grond wees nie.”

27. Op die sewende dag het party mense tog wel in die veld na kos gaan soek. Hulle kon egter niks kry nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 16