Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 16:11-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die Here het toe vir Moses gesê:

12. “Ek het die gekla van die volk gehoor. Sê vir hulle: ‘Julle sal teen skemer vleis hê om te eet en môre-oggend brood om van versadig te word. Julle sal dan weet dat Ek die Here julle God is.’”

13. Teen die aand het daar kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit. Die volgende oggend het daar dou reg rondom die kamp gelê.

14. Toe die dou later die dag verdwyn, was die grond van die woestyn bedek met fyn vlokkies wat soos ryp lyk.

15. Die Israeliete was verwonderd toe hulle dit sien. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit hierdie?” want hulle het dit nie geken nie. Moses antwoord hulle: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om van te eet.

16. Die Here het gesê dat elke tent soveel daarvan bymekaar moet maak as wat daar mense in die tent is. Julle moet vir elke persoon twee kilogram daarvan bymekaarmaak.”

17. Die volk het gegaan en daarvan bymekaargemaak – party meer, party minder.

18. Toe hulle dit afmeet, was dit presies reg. Dié wat baie opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet.

19. Moses het toe vir hulle gesê: “Daar mag niks daarvan vir die volgende dag oorbly nie.”

20. Tog was daar mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan laat oorbly vir die volgende oggend. Daar het toe wurms in gekom sodat dit baie sleg geruik het. Moses was baie kwaad vir hulle.

21. Die volk het voortaan elke oggend kos gaan bymekaarmaak volgens elkeen se behoefte. Namate dit in die dag warmer geword het, het die kos wat nie opgetel is nie, verdwyn.

22. Op die sesde dag het hulle twee keer meer opgetel as op die ander dae. Die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel.

23. Moses het vir hulle gesê: “Die Here het bepaal dat daar ’n rusdag moet wees. Môre is dit die Here se Sabbat. Bak en kook wat julle vir vandag nodig het en laat die ander vir môre oorbly.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 16