Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 15:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing vir die Here,want Hy is geweldig hoog.Perd en ruiter het Hy in die see gegooi.”

22. Moses het die volk toe weggelei van die Rietsee af. Hulle het na die Surwoestyn getrek. Drie dae lank het hulle deur die woestyn getrek en geen water gekry nie.

23. Toe hulle by die plek Mara kom, was daar uiteindelik water. Die water was egter brak en hulle kon dit nie drink nie. Dit is hoekom die plek Mara genoem is.

24. Die volk het toe by Moses gaan kla: “Wat moet ons dan drink?”

25. Moses het hulp by die Here gaan soek. Die Here het vir hom ’n stuk hout uitgewys. Hy het dit gevat en in die water gegooi. Dit het die water drinkbaar gemaak. Dit was hier by Mara waar die Here die volgende reëling getref het om hulle te toets:

26. “As julle goed luister na die Here julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die Here wat julle gesond sal hou.”

27. Toe hulle van Mara af weg is, het hulle by Elim gekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 15