Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het toe vir Moses gesê:

2. “Elke oudste seun in Israel moet aan My opgedra word. Die een wat eerste gebore word, behoort aan My, of dit nou ’n mens of ’n dier is.”

3. Moses het toe vir die volk gesê: “Ons moet altyd hierdie dag onthou waarop ons weg is uit Egipte waar ons slawe was. God het ons met sy groot krag daar uitgelei. (Onthou om nie op hierdie dag iets met suurdeeg te eet nie.)

4. Ons trek weg op ’n dag in die maand Abib.

5. Julle moet altyd gedurende hierdie maand die fees vier wanneer die Here julle eendag in die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete gebring het. Dit is ’n vrugbare land wat die Here aan ons voorgeslagte belowe het.

6. Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die sewende dag moet julle feesvier vir die Here.

7. Gedurende daardie sewe dae mag julle net brood eet sonder suurdeeg. Daar mag nie ’n krieseltjie suurdeeg te sien wees nie, nie by julle nie en nêrens in julle land nie.

8. “Julle moet op die dag van die fees aan julle kinders vertel waaroor dit gaan. Julle moet vir hulle verduidelik: ‘Ons vier fees oor wat die Here vir ons gedoen het toe ons uit Egipte weg is.’

9. Hierdie jaarlikse fees sal julle daaraan herinner. Dit sal soos ’n merk op jou hand en ’n herinneringsteken op jou voorkop wees. Dit sal julle help om altyd die Here se bevele in gedagte te hou. Dit was tog die Here wat julle met sy groot krag uit Egipte gered het.

10. “Onthou hierdie opdrag sodat julle die fees elke jaar op die vasgestelde tyd kan hou.

11. Onthou hierdie voorskrifte wanneer die Here julle in die land gebring het waar die Kanaäniete nou woon. Hy het dit lankal reeds aan julle voorouers belowe.

12. Al die oudste seuns en manlike diere wat eerste gebore is, moet dan aan die Here opgedra word.

13. Jy moet die eerste donkie wat gebore word, omruil met ’n skaap wat in sy plek vir die Here gegee word. As julle nie so wil maak nie, moet die donkie se nek gebreek word. Jy is egter verplig om jou seun wat eerste gebore is los te koop.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 13