Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:35-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

35. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee.

36. Die Here het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder.

37. Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans.

38. Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad.

39. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so haastig padgee uit Egipte dat daar nie nog tyd was om padkos te maak nie.

40. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gebly.

41. Presies aan die einde van die 430 jaar is die Here se mense uit Egipte weg.

42. Die Here het hierdie nag gekies om hulle uit Egipte te laat trek. Hierdie nag het aan die Here behoort. Dit sal vir altyd in Israel onthou word.

43. Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die reëlings vir die Paasfees is soos volg: Iemand wat nie aan Israel behoort nie, mag nie saam eet nie.

44. ’n Slaaf wat gekoop is, mag wel saam eet, mits hy besny is.

45. Mense wat gehuur word of trekarbeiders mag nie saam eet nie.

46. Dié wat die rammetjie deel, moet dit saam eet in een huis. Julle mag nie van die vleis buitentoe vat nie. Julle moet ook nie sy bene breek nie.

47. Al die Israeliete moet deelneem aan die fees.

48. “As daar ’n buitelander tussen julle is wat aan die fees wil deelneem, moet hy en almal in sy huis wat manlik is, eers besny word. Hulle mag dan saam met julle aan die fees deelneem. Dit sal wees asof hulle tussen julle gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag egter glad nie aan die fees deelneem nie.

49. Dieselfde reël geld vir almal, of hulle nou in Israel gebore is en of dit iemand is wat uit die buiteland by julle kom woon het.”

50. Die Israeliete het toe presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

51. Op dieselfde dag waarop die fees nog tans gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte gelei.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12