Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 7:17-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Miskien sal jy dink: ‘Hoe sal ons ooit hierdie nasies kan oorwin wat soveel sterker is as ons?’

18. Moenie vir hulle bang wees nie! Onthou net wat die Here jou God aan die farao en aan die hele Egipte gedoen het.

19. Met jou eie oë het jy die verskriklike dinge gesien wat die Here jou God na hulle gestuur het. Onthou die tekens en wonderdade en die geweldige krag wat die Here gebruik het om jou uit Egipte te lei. Hierdie selfde krag sal die Here jou God gebruik teen die volke waarvoor jy bang is.

20. Dan sal die Here jou God paniek onder hulle saai om die paar oorlewendes wat nog vir jou wegkruip, uit te dryf!

21. “Nee, moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ’n groot en ontsagwekkende God.

22. Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie, want as jy dit doen, sal die wilde diere te vinnig teen jou vermeerder.

23. Die Here jou God sal hulle aan jou oorgee. Hy sal hulle heeltemal verwar tot hulle vernietig is.

24. Hy sal hulle konings in jou mag oorgee en jy sal hulle name van die aarde af wegvee. Niemand sal teen jou staande kan bly nie en jy sal hulle almal uitwis.

25. “Hulle afgode moet jy met vuur verbrand. Moenie die silwer en goud waarvan hulle gemaak is, begeer nie. Moet dit nie vir jou vat nie. Dit sal ’n valstrik vir jou word, iets wat veragtelik is vir die Here jou God.

26. Moenie enige van daardie veragtelike goed in jou huis inbring nie, want dan kan jy vernietig word, net soos hulle. Jy moet hierdie goed as veragtelik beskou, want dit is gedoem tot vernietiging.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 7