Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 6:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Dit is die bevele, voorskrifte en bepalings wat die Here julle God aan my meegedeel het om vir julle te leer. Die bedoeling hiervan is dat julle Hom gehoorsaam kan wees in die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem.

2. “Jy, jou kinders en jou kleinkinders moet die Here dien so lank as wat jy lewe. As jy al sy voorskrifte en bevele gehoorsaam, sal jy ’n lang lewe geniet.

3. Luister noukeurig daarna, Israel, dat jy dit kan doen sodat met jou goed kan gaan en jy baie kinders kan hê. Die Here God het aan jou voorouers ’n baie vrugbare land beloof.

4. “Luister, Israel! Die Here ons God is die enigste Here.

5. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.

6. Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee.

7. Skerp hierdie woorde by jou kinders in en praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.

8. Bind dit aan jou hande vas as ’n herinnering en dra dit op jou voorkop.

9. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en teen jou stadspoorte.

10. “Die Here jou God bring jou binnekort in die land wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het. Dit is ’n land met groot en mooi stede, stede waaraan jy nie gebou het nie.

11. Die huise is vol met goeie goed waarvoor jy nie gewerk het nie. Jy sal water skep uit putte wat jy nie self gegrawe het nie. Jy sal van wingerde en olyfbome eet wat jy nie self geplant het nie. Wanneer jy jou in die land versadig geëet het,

12. sorg dan dat jy nie die Here vergeet nie. Dit is Hy wat jou van die slawerny in Egipte gered het.

13. Betoon eerbied aan die Here jou God en dien Hom. Wanneer jy ’n eed sweer, mag jy net sy Naam gebruik.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 6