Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Al hierdie stede was versterk met hoë mure rondom en poorte met sluitbalke. Ons het terselfdertyd ook baie van die stede sonder mure ingeneem.

6. Ons het die koninkryk van Basan totaal verdelg, net soos wat ons koning Sihon van Gesbon vernietig het. Ons het al die inwoners, mans, vroue en kinders, uitgewis in elke stad wat ons verower het.

7. Ons het die diere vir onsself gehou en ook die buit van die stede wat ons geplunder het.

8. “Ons het die land van twee Ammoritiese konings oos van die Jordaanrivier van die Arnonkloof tot by Hermonberg in besit geneem.

9. (Die Sidoniete het die Hermonberg die Sirjon genoem, en die Amoriete Senir.)

10. Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

11. (Koning Og van Basan was die laaste van die reuse Refaïete. Sy ysterbed was meer as vier meter lank en byna twee meter breed. Dit kan nog steeds in die Ammonitiese stad Rabba gesien word.)”

12. “Van die land wat ons verower het, het ek vir die stamme Ruben en Gad die gebied anderkant Aroër langs die Arnonkloof, asook die helfte van die bergwêreld van Gilead met sy stede, gegee.

13. Die res van Gilead en die hele Basan – Og se voormalige koninkryk – het ek aan die halwe stam van Manasse gegee. (Die Argobgebied van Basan was voorheen bekend as die land van die Refaïete.

14. Jair, ’n leier uit die stam van Manasse, het die hele Argobgebied in Basan tot by die grens van Gesur en Maäkat gevat. Jair het die gebied na homself vernoem en dit die Dorpe van Jair genoem soos wat dit vandag nog bekend is.)

15. Gilead het ek vir Makir gegee.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3