Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29:2-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Moses het al die Israeliete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het met julle eie oë alles gesien wat die Here in Egipte aan die farao, aan al sy onderdane en die hele land gedoen het,

3. al die groot dade van krag, die wondertekens en die verstommende wonders.

4. Maar tot vandag toe nog het die Here julle nie die verstand gegee om dit te verstaan, ook nie oë om te sien of ore om te hoor nie!

5. Vir 40 jaar lank het ek julle deur die woestyn gelei sonder dat julle klere of sandale ooit verweer het.

6. Julle het nie brood of wyn of enige ander sterk drank gehad nie, maar Hy het vir julle kos gegee sodat julle kon ervaar dat die Here julle God is.

7. Toe ons hier aankom, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan teen ons kom veg, maar ons het hulle verslaan.

8. Ons het hulle land by hulle weggevat en dit aan die stamme van Ruben en Gad en aan die halwe stam van Manasse as hulle erfdeel gegee.

9. “Daarom, wees gehoorsaam aan die bepalings van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen.

10. Almal van julle, stamleiers, regters, amptenare, en die hele Israel, staan vandag hier voor die Here julle God.

11. Julle kinders, vroue en die vreemdelinge wat tussen julle leef, dié wat vir julle hout kap en water aandra, is ook by julle.

12. Julle staan vandag hier om met die Here julle God ’n verbond te sluit. Die Here sluit hierdie verbond met julle en Hy verseël dit met ’n eed.

13. Hy wil dit vandag bo alle twyfel stel dat julle sy volk is en dat Hy julle God is, net soos Hy dit aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob belowe het.

14. Die Here sluit nie net met julle ’n verbond met al sy verpligtings nie.

15. Die Here julle God sluit hierdie verbond met julle wat vandag hier in sy teenwoordigheid is, maar ook met al die toekomstige geslagte van Israel.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 29