Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:49-60 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

49. “Die Here sal ’n nasie van ver af, van die einde van die aarde af, teen jou bring. Hy sal soos ’n arend neerswiep op jou. Dit is ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,

50. ’n sterk en hartelose nasie wat geen respek vir oumense het nie en geen jammerte vir jongmense nie.

51. Sy leërs sal jou diere en die oes op jou lande verteer en jy sal van honger doodgaan. Hulle sal vir jou geen graan of wyn, olyfolie, kalwers of lammers laat oorbly totdat hulle jou ook heeltemal vernietig het nie.

52. Hulle sal jou stede beleër totdat al die versterkte mure in jou land, die mure wat jou moes beskerm, afgebreek is. Hulle sal al die dorpe in die land aanval wat die Here jou God vir jou gegee het.

53. Die beleg sal so erg wees dat jy die vleis van jou eie seuns en dogters wat die Here jou God aan jou gegee het, sal eet.

54. Die sagste man onder julle sal geen simpatie hê met sy eie broer of sy geliefde vrou of sy kinders wat nog lewe nie.

55. Hy sal vir nie een van hulle gee van die vleis van sy eie kinders wat hy besig is om te eet nie. Dit is al wat hy sal oorhê as gevolg van die lyding wat die vyand gedurende die beleëring van al die stede sal meebring.

56. Die sagste en mees sensitiewe vrou onder julle, so sag dat sy nie eers haar voet op die grond sal sit nie, sal niks omgee vir die man wat sy liefhet of vir haar eie seun en dogter nie.

57. Sy sal die nageboorte en die baba waaraan sy geboorte gegee het, wegsteek sodat sy dit in die geheim kan eet. Sy sal niks anders hê om te eet gedurende die beleëring en die verskriklike nood wat jou vyand oor al die stede sal bring nie.

58. “As jy weier om al die woorde van die gebooie te gehoorsaam wat in hierdie boek geskryf is, as jy nie eerbied het vir die glorieryke en ontsagwekkende Naam van die Here jou God nie,

59. sal die Here jou en jou kinders met onbeskryflike plae tref. Hierdie plae sal intens en sonder verligting wees wat jou mislik en ondraaglik siek sal maak.

60. Die Here sal al die siektes waarvoor jy in Egipte so bang was oor jou bring, en hulle sal hulle tol van jou eis.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28