Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 23:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “’n Man wie se geslagsorgane vermink is of wat ontman is, mag nie deel wees van die vergadering van die Here nie.

2. Dié wat uit ’n ontoelaatbare verhouding gebore is, asook hulle nageslag tot in die tiende generasie, mag nie ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

3. “Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

4. Hierdie nasies het jou nie met kos en water verwelkom toe jy uit Egipte gekom het nie. Inteendeel, hulle het probeer om vir Bileam, die seun van Beor van Petor in Aram-Naharajim, te huur om jou te vervloek.

5. Die Here jou God het nie na Bileam geluister nie. Hy het die vloek in ’n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet.

6. Jy mag nooit, vir so lank as wat jy leef, op enige manier die Ammoniete of die Moabiete help nie.

7. “Moenie die Edomiete of die Egiptenaars verag nie. Die Edomiete is familie van jou en jy het as vreemdeling onder die Egiptenaars gewoon.

8. Die derde geslag Egiptenaars mag ingesluit word in die vergadering van die Here.”

9. “As jy gaan oorlog maak teen jou vyande, bly weg van enigiets wat onrein is.

10. “’n Man wat seremonieel onrein word as gevolg van ’n nagtelike uitskeiding, moet die kamp verlaat en die hele dag wegbly.

11. Teen die aand moet hy homself was en teen sononder mag hy weer na die kamp toe terugkeer.

12. “Merk ’n gebied aan die buitekant van die kamp af as ’n toilet.

13. Elkeen van julle moet ’n graaf as deel van julle toerusting hê. Wanneer jy ontlas, grawe ’n gat met die graaf en maak jou ontlasting toe met grond.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 23