Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:21-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. moet die regters die vrou na die deur van haar pa se huis bring en die mans van die dorp moet haar daar met klippe doodgooi. Sy het ’n skandelike daad in Israel gepleeg deur losbandig te leef terwyl sy nog by haar ouers gewoon het. So moet julle hierdie soort kwaad onder julle uitroei.

22. “As ’n man in die bed betrap word met ’n ander man se vrou, moet al twee doodgemaak word. Op dié manier sal die kwaad in Israel uitgeroei word.

23. “As ’n man ’n jong meisie, ’n maagd, wat verloof is, in die stad raakloop en hy het seksuele gemeenskap met haar,

24. moet julle al twee van hulle na die poorte van die dorp neem en hulle daar met klippe doodgooi. Die vrou is skuldig omdat sy nie om hulp geskree het nie. Die man moet sterf omdat hy ’n ander man se vrou onteer het. So moet julle hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

25. “Maar as die man die verloofde meisie buite in die veld raakloop, en haar daar verkrag, moet net die man doodgemaak word.

26. Daar moet niks met die meisie gedoen word nie, want sy het nie ’n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie. Hierdie saak is vergelykbaar met ’n slagoffer wat aangeval en vermoor word.

27. Omdat die man haar buite in die veld verkrag het, moet dit aanvaar word dat sy om hulp geroep het, maar dat daar niemand was om haar te red nie.

28. “As ’n man betrap word dat hy ’n jong meisie wat nie verloof is nie, gegryp het,

29. moet hy haar pa 50 stukke silwer betaal. Hy is ook verplig om met die meisie te trou omdat hy haar onteer het. Hy mag ook nooit van haar skei nie.

30. “’n Man mag nie seksuele gemeenskap met ’n vrou van sy pa hê nie, want dit sal sy pa onteer.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22