Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 21:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die Levitiese priesters moet ook daarheen gaan. Die Here jou God het hulle gekies om in sy teenwoordigheid diens te doen en om seën aan te kondig in die Naam van die Here. Hulle moet oor alle verskille en strawwe besluit.

6. “Die leiers van die dorp naaste aan die lyk moet hulle hande was bo-oor die jong koei wie se nek gebreek is.

7. Dan moet hulle sê: ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.

8. O Here, vergewe u volk Israel wat U verlos het. Moet tog nie u volk Israel aanspreeklik hou vir die moord op ’n onskuldige man nie.’ Dan sal hulle vry wees van skuld vir die persoon se dood.

9. “Deur hierdie instruksies na te kom en te doen wat reg is in die oë van die Here, sal jy die gemeenskap reinig van die skuld van moord.”

10. “Dit kan gebeur dat jy gaan oorlog maak teen jou vyande, en die Here jou God gee hulle oor in jou hand en jy neem van hulle gevange.

11. Jy kan moontlik tussen die gevangenes ’n baie mooi vrou sien en tot haar aangetrokke voel en met haar wil trou.

12. As dit gebeur, mag jy haar na jou huis toe vat. Daar moet sy haar hare afskeer en haar vingernaels knip

13. en nuwe klere aantrek. Daarna moet sy vir ’n volle maand in jou huis bly om oor haar pa en ma te treur. Daarna mag jy met haar trou en jy sal haar man wees en sy jou vrou.

14. Maar as jy met haar trou en daarna besluit jy hou nie van haar nie, moet jy haar laat gaan. Jy mag haar nie verkoop of as ’n slaaf behandel nie, want jy het haar verneder.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 21