Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 21:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Dit kan gebeur dat jy gaan oorlog maak teen jou vyande, en die Here jou God gee hulle oor in jou hand en jy neem van hulle gevange.

11. Jy kan moontlik tussen die gevangenes ’n baie mooi vrou sien en tot haar aangetrokke voel en met haar wil trou.

12. As dit gebeur, mag jy haar na jou huis toe vat. Daar moet sy haar hare afskeer en haar vingernaels knip

13. en nuwe klere aantrek. Daarna moet sy vir ’n volle maand in jou huis bly om oor haar pa en ma te treur. Daarna mag jy met haar trou en jy sal haar man wees en sy jou vrou.

14. Maar as jy met haar trou en daarna besluit jy hou nie van haar nie, moet jy haar laat gaan. Jy mag haar nie verkoop of as ’n slaaf behandel nie, want jy het haar verneder.”

15. “Dit kan gebeur dat ’n man twee vroue het en hy is liewer vir die een as vir die ander, en beide vroue gee vir hom seuns. As die oudste seun van die vrou kom van wie hy minder hou,

16. mag hy nie in sy testament bepaal dat die groter erfporsie aan die jonger seun gaan van die vrou wat hy liewer het nie.

17. Hy moet die gebruiklike dubbele porsie vir die oudste seun gee. Dit is die een wat die krag van sy pa se manlikheid verteenwoordig en wat die regte van die eersgebore seun het selfs al is hy die seun van die vrou wat die pa minder liefhet.”

18. “Dit kan gebeur dat ’n man ’n koppige en rebelse seun het wat nie na sy pa of ma luister nie, selfs al tugtig hulle hom.

19. In so ’n geval moet die pa en ma die seun na die leiers van die dorp by die stadspoort vat.

20. Hulle moet dan verklaar: ‘Hierdie seun van ons is koppig en rebels en weier om ons te gehoorsaam. Hy is ’n nikswerd dronkaard.’

21. Dan moet al die mans van die stad die seun met klippe doodgooi. Op hierdie manier sal jy die kwaad onder jou uitroei. Die hele Israel sal daarvan hoor en bang word.”

22. “Wanneer iemand ’n misdaad gepleeg het waarvoor hy die dood verdien en hy word opgehang aan ’n boom,

23. mag sy liggaam nie oornag aan die boom bly hang nie. Jy moet die liggaam nog dieselfde dag begrawe, want enigeen wat aan ’n boom hang, is ’n vervloekte van God. Moenie die land besoedel wat die Here jou God aan jou as ’n erfenis gee nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 21