Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 13:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Sê nou maar daar is ’n profeet by jou of iemand wat drome droom oor die toekoms. Sê nou so iemand maak beloftes oor tekens en wonders

2. en die voorspelde tekens en wonders gebeur en die profete sê dan: ‘Kom ons gaan agter ander gode aan,’ gode wat jy nooit geken of gedien het nie,

3. dan moet jy nie na die woorde van daardie profeet of uitlêer van drome luister nie. Die Here jou God toets jou net om te wete te kom of jy Hom met hart en siel liefhet.

4. Volg maar net die Here jou God en eer Hom. Gehoorsaam sy gebooie, luister na sy stem en hou vas aan Hom.

5. Die vals profete of dromers moet doodgemaak word, want hulle het opstand aangemoedig teen die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte losgekoop het. Omdat hulle probeer het om jou te laat afwyk van die pad wat die Here jou God jou wil laat loop, moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

6. “Sê nou jou eie broer of jou seun of dogter of jou geliefde vrou of boesemvriend kom na jou toe en sê in die geheim: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy of jou voorouers nie geken het nie,

7. gode van die omringende volke, naby of ver, gode van enige uithoek van die land.

8. As hulle dit doen, moenie toegee of na hulle luister nie. Jy moet hulle ook nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon of beskerm nie.

9. Maak hom verseker dood! Jy moet dit begin en dan moet die hele volk jou ondersteun.

10. Stenig die skuldiges, want hulle wou jou verlei om die Here jou God te verlaat wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, uitgelei het.

11. Dan sal al die Israeliete hiervan hoor en bang word. Hulle sal nie weer so ’n verkeerde ding doen nie.

12. “Sê nou jy hoor dat daar in een van die stede wat die Here jou God aan jou gee,

13. slegte mense is wat die inwoners verlei deur hulle aan te moedig om vreemde gode te aanbid wat jy nie ken nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 13