Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 10:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Dit was in dié tyd dat die Here die stam van Levi afgesonder het om die ark van die Here se verbond te dra, om in die teenwoordigheid van die Here diens te doen en om in sy Naam seën uit te spreek soos wat dit vandag nog hulle taak is.

9. Dit is waarom daar vir die Leviete geen erfdeel of aandeel in die land was saam met die ander stamme van Israel nie. Die Here is hulle erfdeel soos wat die Here jou God hulle beloof het.

10. “Soos die eerste keer was ek 40 dae en nagte op die berg. Die Here het weereens na my geluister en julle nie vernietig nie.

11. Die Here het vir my gesê: ‘Staan op en gaan lei die volk na die land wat Ek aan hulle voorouers beloof het.’”

12. “En nou, Israel, wat verwag die Here jou God van jou? Hy vra van jou om Hom te eerbiedig, om volgens sy wil te lewe, om Hom lief te hê en Hom met hart en siel te dien.

13. “Gehoorsaam die bevele en gebooie van die Here wat ek jou vandag gee, dit is net tot jou beswil.

14. Die hoogste hemel en die aarde met alles daarop behoort aan die Here.

15. Tog het die Here jou voorouers liefgehad en julle, hulle nageslag, gekies, bo al die ander nasies. Dit is vandag nog so.

16. “Daarom, verander julle afvallige gesindheid en hou op om so hardkoppig te wees.

17. “Die Here jou God is die God van die gode en die Here van die here. Hy is die groot God, magtig en ontsagwekkend. Hy is nie partydig nie en aanvaar ook nie omkoopgeld nie.

18. Hy sorg vir die reg van die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdelinge lief en gee vir hulle kos en klere.

19. Jy moet ook omgee vir die vreemdelinge, want jy was immers self ook ’n vreemdeling in Egipte.

20. “Eerbiedig die Here jou God, dien Hom en volg Hom. Wanneer jy sweer, mag dit net in sy Naam wees.

21. Hy is jou God, die Een aan wie jou lof toekom. Hy is die Een wat magtige wonderdade voor jou oë gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 10