Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. “Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree.

16. Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon.

17. “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here.

18. “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is.

19. Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”

20. Ek het aangehou om te bid en my en my volk se sonde te bely. Ek het gepleit by die Here my God, ter wille van sy heilige tempel.

21. Terwyl ek nog besig was om te bid, het Gabriël, wat ek in die eerste visioen gesien het, na my toe gekom. Dit was teen die tyd dat die aandoffer gebring word.

Lees volledige hoofstuk Daniël 9