Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Dawid en sy persoonlike leër het teen Jerusalem opgeruk waar die Jebusiete gewoon het. “Jy sal nooit hier inkom nie,” tart die Jebusiete hom en sê: “Selfs die blindes en die lammes sal julle hier uit hou!” Hulle het gedink: “Dawid sal nooit hier kan inkom nie.”

7. Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower. Dit word nou genoem die Stad van Dawid.

8. Daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet die watertonnel gebruik om daardie sogenaamde lammes en blindes te bereik, want ek, Dawid, het ’n afsku aan hulle.” Dit is die oorsprong van die spreekwoord: “Die lammes en die blindes mag nie in die tempel ingaan nie.”

9. Dawid het toe die vesting sy tuiste gemaak en dit die Stad van Dawid genoem. Hy het verdere versterkings rondom gebou. Dit was vanaf die Milloterras in die rigting van die paleis.

10. Dawid het al sterker geword, want die Here, die Almagtige, was met hom.

11. Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout, skrynwerkers en messelaars gestuur om vir Dawid ’n paleis te bou.

12. Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en sy koninkryk aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.

13. Nadat Dawid van Hebron af na Jerusalem toe verhuis het, het hy meer vroue en byvroue geneem. Daar is nog seuns en dogters vir hom gebore.

14. Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en afgegaan na ’n skuilplek toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 5