Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5:11-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout, skrynwerkers en messelaars gestuur om vir Dawid ’n paleis te bou.

12. Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en sy koninkryk aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.

13. Nadat Dawid van Hebron af na Jerusalem toe verhuis het, het hy meer vroue en byvroue geneem. Daar is nog seuns en dogters vir hom gebore.

14. Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en afgegaan na ’n skuilplek toe.

18. Die Filistynse leër het oor die hele Spooklaagte uitgesprei.

19. Dawid raadpleeg toe die Here: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?”En die Here het geantwoord: “Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee.”

20. Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. Toe roep Dawid uit: “Die Here het soos ’n verwoestende stroom water deur my vyande gebreek!” Daarom het Dawid die plek Baäl-Perasim (Grootkloof) genoem.

21. Die Filistyne het selfs hulle afgode net daar laat lê sodat Dawid en sy soldate dit kon wegdra.

22. Maar na ’n tyd het die Filistyne teruggekom en weer oor die Spooklaagte versprei.

23. Weereens raadpleeg Dawid die Here. “Moenie hulle van voor af aanval nie,” antwoord die Here. “Julle moet eerder óm hulle trek en hulle daar by die bome van agter af aanval.

24. Wanneer julle in die toppe van die bome ’n geruis hoor soos mense wat marsjeer, moet julle toeslaan. Dit is die teken dat die Here voor julle uit gaan om die Filistyne te tref.”

25. Dawid het gedoen soos die Here beveel het. Hy het die Filistyne verslaan vanaf Geba tot by Geser.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 5