Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die woede van die Here het weer teen Israel ontvlam. Hy het Dawid beïnvloed. “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs,” het die Here vir hom gesê.

2. Die koning sê toe vir Joab, bevelvoerder van die leër: “Gaan deur die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en tel die volk. Ek wil weet hoeveel mense daar is.”

3. Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die Here u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?”

4. Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel.

5. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe.

6. Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades en Dan, en daarvandaan verby Sidon.

7. Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan.

8. Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer.

9. Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24