Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Daarna het Joab op die ramshoring laat blaas en sy soldate het opgehou om die leër van Israel te agtervolg.

17. Hulle het Absalom se liggaam in ’n diep gat in die bos gegooi en ’n groot hoop klippe daarop gestapel. Die hele Israel het egter na hulle huise toe gevlug.

18. Terwyl hy nog gelewe het, het Absalom vir homself ’n gedenkteken in die Koningslaagte opgerig, want hy het gesê: “Ek het tog nie ’n seun wat my naam in gedagtenis kan hou nie.” Hy het die gedenkteken na homself vernoem en dit staan vandag nog bekend as “Absalom se Gedenkteken”.

19. Sadok se seun Agimaäs sê toe: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie nuus bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”

20. “Nee!” sê Joab vir hom. “Vandag moet jy nie die tyding bring nie. Op ’n ander keer kan jy my boodskapper wees, maar nie vandag nie, want die koning se seun is dood.”

21. Toe sê Joab vir ’n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Die man het voor Joab gebuig en begin hardloop.

22. Maar Agimaäs het aanhou pleit by Joab: “Wat ook al gebeur, laat ek tog ook agter die Kussiet aan hardloop.”“Hoekom wil jy gaan, my seun?” sê Joab. “Daar sal geen boodskappersloon vir jou wees nie.”

23. “Dit maak nie saak nie. Laat my in elk geval gaan,” pleit hy.Joab het ingestem: “Nou gaan dan maar!” Agimaäs het met ’n kortpad oor die Jordaanvlakte gehardloop en die Kussiet verbygesteek.

24. Terwyl Dawid in die stadspoort gesit het, het die wag op die poort se dak geklim en na die uitkykpunt by die muur gegaan. Terwyl hy uitkyk, sien hy ’n man wat alleen na hulle toe aangehardloop kom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18