Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Agitofel het toe by Absalom aangedring: “Laat my tog 12 000 man kies en vannag nog vir Dawid agternajaag.

2. Ek sal hom inhaal terwyl hy moeg en moedeloos is. Hy en sy manskappe sal paniekbevange wees en sal almal vlug sodat ek die koning kan doodmaak waar hy alleen oor is.

3. Ek sal al die mense na u toe oorhaal, soos ’n bruid wat terugkom na haar man, behalwe die een man na wie u soek. Die hele volk sal dan vrede hê.”

4. Hierdie plan het vir Absalom en al die ander leiers van Israel goed geklink.

5. Maar toe sê Absalom: “Bring Gusai die Erekiet in sodat ons kan hoor wat hy hiervan sê.”

6. Toe Gusai inkom, vertel Absalom hom wat Agitofel aanbeveel het. Daarna vra hy: “Wat dink jy hiervan? Moet ons Agitofel se raad volg? Indien nie, wat beveel jy aan?”

7. “Ek dink Agitofel het hierdie keer ’n fout begaan,” sê Gusai.

8. “U weet dat u pa en sy manne dapper vegters is en op hierdie oomblik so aggressief is soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Onthou tog dat u pa ’n deurwinterde soldaat is. Hy sal nie by sy troepe oornag nie.

9. Hy kruip waarskynlik alreeds weg in een van die klowe of op ’n ander plek. En dan, sou daar in die begin al sommige manne omkom, sal daar paniek onder u troepe ontstaan sodat daar gesê sal word: ‘Daar was ’n groot slagting onder die manskappe van Absalom.’

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17