Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Na vier jaar sê Absalom vir die koning: “Laat my toe om na Hebron toe te gaan om daar my gelofte vir die Here te gaan betaal.

8. Terwyl ek in Gesur was, het ek belowe dat ek die Here sal aanbid as Hy my na Jerusalem toe terugbring.”

9. “Gaan gerus maar,” antwoord die koning hom.Absalom het toe na Hebron toe gegaan.

10. Terwyl hy daar was, stuur hy boodskappers na al die stamme van Israel en sê: “Sodra julle die trompette hoor, moet julle sê: ‘Absalom is in Hebron tot koning gekroon.’”

11. Hy het 200 gaste uit Jerusalem saamgeneem. Hulle het niks geweet van die hele plan nie.

12. Hy het ook vir Agitofel, een van Dawid se raadgewers wat in Gilo gewoon het, laat haal waar hy besig was om te offer. Kort voor lank het al hoe meer mense hulle by Absalom aangesluit sodat die sameswering al groter afmetings aangeneem het.

13. Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!”

14. “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.”

15. “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle.

16. Die koning en sy huishouding het toe dadelik per voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg.

17. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan.

18. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.Terwyl hulle voor die koning verbytrek,

19. vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15