Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 14:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Ek het ook gedink: ‘Mag die uitspraak van die koning my gerusstel, want u is soos ’n engel van God wat tussen goed en kwaad kan onderskei.’ Mag die Here u God met u wees.”

18. “Ek wil net een ding weet,” sê die koning. “Jy moet dit nie wegsteek nie.”“Wat is dit, my heer?” vra sy.

19. “Is dit Joab wat jou hierheen gestuur het?” vra die koning.Die vrou antwoord: “My heer die koning, hoe kan ek dit ontken? Niemand kan iets vir u wegsteek nie. Ja, so waar as wat u lewe, Joab, u leërowerste, het my gestuur en het my vertel wat om te sê.

20. Hy het dit gedoen om ’n ander kant van die saak te stel. Maar u het wysheid soos ’n engel van God wat alles weet wat in die land gebeur!”

21. Die koning het Joab toe laat roep en sê vir hom: “Goed dan, ek sal maak soos jy vra. Gaan en bring die jong man Absalom terug.”

22. Joab het in eerbetoon voor die koning op die grond neergeval en gesê: “Die Here seën u. Nou weet ek dat u goedgesind is teenoor my, want u het my versoek toegestaan.”

23. Joab is na Gesur toe en het Absalom na Jerusalem toe teruggebring.

24. Maar die koning het beveel: “Absalom kan na sy huis toe gaan, maar hy mag nie voor my verskyn nie.” Absalom het na sy huis toe gegaan sonder om die koning te sien.

25. Daar was niemand in die hele Israel wat so aantreklik was en so bewonder is soos Absalom nie. Van sy kop tot sy tone het hy geen gebrek gehad nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 14