Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 10:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. ’n Tyd hierna het koning Nagas van die Ammoniete gesterf en sy seun Ganun het hom opgevolg.

2. Dawid het gedink: “Ek sal ’n goeie verhouding met Ganun handhaaf ter wille van sy pa Nagas. Hy was altyd lojaal aan my.” Dawid stuur toe gesante om sy medelye oor sy pa se dood aan Ganun oor te dra.Maar toe Dawid se gesante in die land Ammon aankom,

3. sê die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun: “Dink u werklik hierdie manne het gekom om u vader te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die stad te spioeneer sodat hulle kan kom en dit verower!”

4. Ganun gryp toe Dawid se gesante, skeer die helfte van hulle baarde af, sny hulle klere onderkant die heupe af en stuur hulle terug.

5. Toe Dawid dit hoor, stuur hy boodskappers na die manne toe om hulle te gaan ontmoet, want hulle het baie vernederd gevoel. Hy het hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het. Dan kan julle terugkom huis toe.”

6. Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid beledig het. Hulle stuur toe gesante en huur 20 000 voetsoldate by die Arameërs uit Bet-Regob en Soba, asook 1 000 by die koning van Maäka, en 12 000 uit die land Is-Tob.

7. Toe Dawid dit hoor, stuur hy Joab en die hele leër van Israel, almal dapper manne.

8. Die Ammoniete het hulle gevegslinie voor die stadspoort opgestel, terwyl die Arameërs van Soba en Regob, en die manskappe van Is-Tob en Maäka in die oop veld stelling ingeneem het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 10