Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 8:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit was al twintig jaar sedert Salomo koning geword het. Die groot bouprojekte van die Here se tempel en sy koninklike paleis was afgehandel.

2. Salomo het toe sy aandag gewy aan die herbou van die dorpe wat koning Hiram vir hom gegee het, en Israeliete daar gevestig.

3. In hierdie tyd het Salomo teen die stad Hamat-Soba geveg en dit verower.

4. Hy het Tadmor in die woestyn herbou en ook baie dorpe in die omgewing van Hamat as voorraadstede.

5. Hy het die stede van Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, die mure herbou en hekke by die poorte aangebring.

6. Hy het in hierdie tyd ook Baälat en ander voorraadstede herbou, en stede gebou waar sy strydwaens en perde aangehou kon word. Hy het al die beplande bouwerk in Jerusalem, die Libanon en deur sy hele ryk voltooi.

7. Daar was nog mense in die land wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

8. Hulle was afstammelinge van die volke wat Israel nie heeltemal uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgeroep vir dwangarbeid, soos dit vandag nog is.

9. Maar Salomo het niemand uit die Israeliete as slawe gebruik nie. Hy het hulle aangestel om te dien as soldate, offisiere in sy leër, bevelvoerders oor sy strydwaens, en sy berede mag.

10. Koning Salomo het ook 250 van hulle aangestel om toesig te hou oor die verskillende projekte.

11. Salomo het sy vrou, die dogter van die farao, uit die Dawidstad laat verhuis na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou kan nie in koning Dawid van Israel se paleis woon nie, want dit is heilige grond omdat die ark van die Here daar gestaan het.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 8