Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:17-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong mans in die heiligdom met die swaard afgemaai, en geen genade aan jong man of jong meisie, bejaardes of verswaktes betoon nie. God het hulle almal in Nebukadnesar se mag oorgegee.

18. Hy het al die voorwerpe in die tempel van God, groot en klein, die skatte van die Here se tempel en die skatte in die koninklike paleis en sy amptenare weggevat na Babel toe.

19. Hulle het die tempel van God aan die brand gesteek, die mure van Jerusalem afgebreek en die paleise verband, en elke ding van waarde vernietig.

20. Almal wat ontkom het aan die swaard, is na Babel toe geneem. Hulle het slawe van die koning en sy seuns geword totdat die Perse die mag oorgeneem het.

21. So is die boodskap van die Here vervul wat deur Jeremia gebring is. Die land het ’n sabbatsrus beleef toe dit 70 jaar lank ontvolk was soos die profeet gesê het.

22. In die eerste jaar van koning Kores van Persië het die Here die profesie van Jeremia vervul. Hy het koning Kores van Persië aangespoor om ’n proklamasie uit te vaardig, dit skriftelik te doen en deur sy hele koninkryk te stuur. Dit het soos volg gelui:

23. Dit is wat koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke op die aarde aan my gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Elkeen van julle wat deel is van sy volk, mag teruggaan. Mag die Here met hom wees.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36