Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Nadat Hiskia getrou sy werk gedoen het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër en beveel dat die mure afgebreek moes word.

2. Toe Hiskia besef dat Sanherib ook van plan was om Jerusalem aan te val,

3. het hy met sy amptenare en militêre raadslede besluit om die watertoevoer uit die fonteine buite die stad af te sny. Hulle het hom hierin ondersteun.

4. ’n Groot klomp mense het bymekaargekom en die watertoevoer uit die spruite toegestop wat deur die veld geloop het. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriërs hier kom en baie water kry?”

5. Daarna het Hiskia sy verdediging versterk deur al die mure te herstel en torings bo-op te bou. Verder het hy ’n tweede muur buite om gebou, die terras by die Dawidstad versterk en ’n groot hoeveelheid wapens en skilde gemaak.

6. Hy het ook militêre offisiere oor die volksleër aangestel en hulle beveel om voor hom op die plein by die stadspoort te vergader. Daar het hy hulle bemoedig en gesê:

7. “Wees sterk en vol moed. Moenie bang wees vir die koning van Assirië of sy magtige leër nie, want daar is ’n baie groter mag aan ons kant!

8. Hy het dalk ’n groot leër, maar hulle is maar net mense. Die Here ons God is by ons en Hy sal ons oorloë vir ons veg!” Hierdie woorde van koning Hiskia van Juda het die volk baie bemoedig.

9. Koning Sanherib was besig om die stad Lakis te beleër en het amptenare na Jerusalem toe gestuur met die volgende boodskap vir koning Hiskia van Juda en die hele volk in die stad:

10. “Dit is wat koning Sanherib van Assirië sê: Waarop vertrou julle om te dink dat julle my beleëring van Jerusalem sal oorleef?

11. Hiskia het gesê: ‘Die Here ons God sal ons red uit die mag van die koning van Assirië.’ Dis duidelik dat Hiskia julle mislei sodat julle van honger en dors sal sterf!

12. Julle weet mos dat dit juis Hiskia was wat al die heiligdomme en altare van die Here verwoes het. Hy het Juda en Jerusalem beveel om net by die een altaar by die tempel te aanbid en om net daar alleen te offer.

13. “Julle weet mos wat ek en die ander konings van Assirië voor my aan al die volke op die aarde gedoen het! Was enige van die gode van daardie nasies in staat om hulle land uit my krag te red?

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32