Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:18-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Die Filistyne het strooptogte uitgevoer op dorpe in die Laeveld van Juda en in die Negevwoestyn. Hulle het reeds Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpies, Timna met sy buitedorpies, en Gimso met sy buitedorpies beset en daar gaan woon.

19. Die Here was besig om Juda te verneder oor koning Agas van Juda, want hy het Juda aangemoedig om te sondig en was heeltemal ontrou aan die Here.

20. Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië daar aankom, het hy koning Agas onderdruk, in plaas daarvan om hom te help.

21. Agas vat toe waardevolle voorwerpe uit die tempel van die Here, die koninklike paleis en uit die huise van sy amptenare en gee dit vir die koning van Assirië. Maar selfs dit het hom niks gehelp nie.

22. Toe dit so sleg met hom gaan, het hy nog meer ontrou aan die Here geword.

23. Hy het offers gebring aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het, “want,” het hy gesê, “hierdie gode het die konings van Aram gehelp en sal my ook help as ek vir hulle offerandes bring.” Maar hulle was sy ondergang en ook dié van die hele Israel.

24. Die koning het die voorwerpe uit die tempel van God weggeneem en dit stukkend geslaan. Hy het die deure van die Here se tempel gesluit. Hy het ook heidense altare op elke straathoek in Jerusalem opgerig.

25. Verder het hy in al die dorpe van Juda heidense heiligdomme opgerig waar offers aan die afgode gebring kon word. Dit het die toorn van die Here, die God van sy voorouers, uitgetart.

26. Die ander gebeurtenisse tydens Agas se regering en al sy dade, van begin tot einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel.

27. Toe koning Agas sterf, is hy in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28