Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 21:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hulle pa het waardevolle geskenke van silwer en goud, kosbare voorwerpe en ook versterkte stede in Juda aan elkeen van hulle gegee. Hy het die koningskap aan Joram gegee, want hy was die oudste.

4. Nadat Joram as koning gevestig was, het hy al sy broers en sommige van die ander leiers van Israel doodgemaak.

5. Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.

6. Maar Joram het die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en was net so goddeloos soos koning Agab, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat baie verkeerd was vir die Here.

7. Maar die Here wou nie Dawid se koningshuis vernietig nie. Hy het immers ’n verbond met Dawid gesluit en belowe dat sy nageslag vir altyd op sy troon sou sit.

8. Gedurende Joram se regering het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en vir hulleself ’n koning gekroon.

9. Joram het Edom met sy volle leër en al sy strydwaens aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel, maar hy kon gedurende die nag ontsnap.

10. Tot vandag toe is Edom onafhanklik. Die dorp Libna het in hierdie tyd in opstand gekom teen die gesag van Joram. Dit was omdat hy die Here die God van sy voorouers verlaat het.

11. Hy het ook heidense hoogtes in die berge van Juda gebou, die inwoners van Jerusalem tot ontrouheid verlei en Juda op die verkeerde pad laat loop.

12. Elia die profeet het toe die volgende brief aan Joram gestuur:Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa Josafat of jou oupa, koning Asa van Juda, gevolg nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 21