Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Daarom, stuur tog vir my ’n bekwame ambagsman wat vaardig is in die bewerking van goud, silwer, brons en yster; en van pers, bloedrooi en blou materiaal. Hy moet bedrewe wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne van Juda en Jerusalem wat my pa Dawid voorsien het.

8. Stuur tog ook vir my seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon, want ek weet u vakmanne is sonder gelyke by die afkap van bome van die Libanon. Ek sal my arbeiders stuur om hulle by te staan.

9. Ek sal ’n groot hoeveelheid hout nodig hê, want die tempel wat ek wil bou, sal baie groot en indrukwekkend wees.

10. Ek sal jou werkers die volgende betaal: 3 300 ton koring, 2 640 ton gars, 440 kiloliter wyn en 440 kiloliter olie.

11. Koning Hiram het Salomo met ’n brief wat hy gestuur het, soos volg geantwoord: “Dis omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou as hulle koning aangestel het.

12. Loof die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het! Hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee, een wat toegerus is met bekwaamheid en insig, wat ’n tempel vir die Here en ’n koninklike paleis vir homself gaan bou.

13. “Ek stuur dan nou vir jou ’n ambagsman met die naam Huram. Hy is ’n baie bekwame man,

14. die seun van ’n vrou uit Dan. Sy pa is uit Tirus. Hy is bedrewe in die maak van voorwerpe van goud, silwer, brons, yster, klip, houtwerk en in pers, blou en bloedrooi stowwe. Daarby is hy ’n graveerder wat enige ontwerp saam met jou pa Dawid se vakmanne kan uitvoer.

15. “Stuur nou gerus vir ons die koring, gars, olyfolie en wyn soos jy beloof het.

16. Ons sal in die Libanon hout kap vir al jou behoeftes, en dit op vlotte al met die see langs na Joppe toe bring. Van daar af kan jy die stompe na Jerusalem toe vervoer.”

17. Salomo het ’n opname van al die vreemdelinge in Israel gemaak, net soos sy pa Dawid destyds gedoen het, en vasgestel dat daar 153 600 van hulle was.

18. Hy het 70 000 van hulle as draers aangestel, 80 000 as klipkappers in die berge, en 3 600 as opsigters om die mense te laat werk.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2